`n HISTORIESE OORSIG VAN DIE VOLKSKERK VAN AFRIKA

vanaf 1922 tor 1984  – HISTORIESE OORSIG VAN DIE VOLKSKERK VAN AFRIKA

Met spesifieke verwysing na die uitdagings en Pastorale benadering van die Kerk
(gelewer deur Ds. L.H. Crotz, Superintendent: 1984 – 1995)

INLEIDING

Hierdie historiese oorsig maak deel uit van die pastoraal wat by geleentheid van die 47ste sitting van Kerkkonferensie deur Ds. Leslie Hugh Crotz gelewer is. Dit was dan ook sy  eerste pastoraal as Superintendent van die Volkskerk van Afrika.

 In vorige pastorale is telkens volgens insig en inklinasie, standpunt ingeneem ten opsigte van die heersende omstandighede waaronder die spesifieke sitting plaasvind. Vantevore is daar geanaliseer om ook `n antwoord te kry vir die probleme. Die pastoraal het probeer leiding gee aan die konferensie en so ook aan die Kerk in die geheel. Ek gaan nie probeer om van die gewoonte af te wyk nie. Ek wil eerder waag om, volgens my inklinasie, deur te steek na die breër Suid-Afrika. Ek sal in die besonder verwys na die probleme en die benadering wat gevolg is, die benadering van ons Kerk in die laaste twintig jaar; en laastens van die toekoms en moontlike aanbevelings hoe ons as Kerk daarby kan aanpas.

DIE UITDAGINGS VAN ONS KERK IN DIE VROEëR JARE

Ek is daarvan oortuig dat vanuit die historiese gesigshoek ons die uitdagings en die bedieningsbenadering sal vind waarmee ons Kerk aan die begin van sy bestaan te doen gehad het.

Die grootste uitdagings vir ons Kerk in die vroeë jare was van Politieke relevansie, naamlik om die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking van rassisme te bevry. Die stigtingsjare van ons Kerk is gekenmerk deur die pogings om `n beleid van apartheid te konsolideer. Hartseer is die feit dat die kerke wat daarop roem dat hulle die draers is van die Verlossingsboodskap van Christus na Afrika, die toonaangewende argitekte en agente van hierdie ideologie was. Weinig is daar pogings aangewend om rassisme en apartheid te veroordeel. Inteendeel, talle pogings is deur hierdie kerke aangewend om die beleid van apartheid te regverdig. Hierdie was die omstandighede waaronder ons voorouers geleef het en die Blye Boodskap van Vryheid moes ontvang.

Teen die agtergrond van kerk en staat se pogings om die politieke beleid van apartheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap te vestig, wil ek vir `n paar oomblikke stilstaan by diegene wat hierdie vernedering moes beleef. Hulle het nie die wêreldse kans gehad om op `n betekenisvolle manier te toon dat hulle nie is wat die witmense van hulle dink nie. Daar moes maniere gevind word om te bewys dat hulle volwaardige burgers van Afrika is en nog belangriker  mense met `n Godgegewe bestaansreg as `n volk van God. In die kerk van die witmense het hulle `n stuk gereedskap geword wat altyd gereed en tot beskikking van die blanke-wêreld moes wees. Vernedering en beledigings was gedurig hul voorslag. Teen hierdie agtergrond is die Volkskerk van Afrika in 1922 gestig.

Ons Kerk was dus die gevolg van `n vernederde, onderdrukte volk wie se daaglikse bestaan gedurg gekenmerk is deur die brutaliteit van `n selfsugtige ideologie van apartheid en wit oorheersing.

Hoe was die pastorale versorging en benadering van die Kerk? Ons sien dat by die eerste kerkleiers daar `n sterk teenkanting was teen alles wat hierdie selfsugtige politieke bestel verteenwoordig. Daar was `n verwerping van die opvatting dat die blankes ons meerdere is. In die woorde van Eerwaarde Forbes, ons stigtingsleraar, word opgesluit die sterk oortuiging van wie ons werklik is:  ”Man should not be judged by the colour of his skin but by the content of his character.”

So het die Volkskerk van Afrika die vesting geword van diegene wat verset toon teen politieke verdrukking en godsdienstige minderwaardigheid. Hulle het so ver gegaan om die Evangelie van Christus uit die mond van `n witman te verwerp. Hierdie verset het `n integrale deel geword van die prediking en onderrig van ons kerk. Ek staaf hierdie stelling op `n verklaring wat uitgereik is deur die kerkkonferensie van 1951:

“It (Conference) finds that the political situation is showing a marked effect on the peace of mind of people, and in this way is hampering them in the exercise of their religious attitude ...”  (Year Book of 1951)

Daar was volgehoue protes teen `n onaanvaarbare politieke beleid van apartheid wat  afbrekende invloed op die geestelike lewe van die burgers gehad het.

Belangrik vir ons analise is die interpretasie van die Woord van God binne ons Kerk. Ironies genoeg het Eerw. Forbes die godsdiens van die witmense geneem en dit gebruik as lig op die pad vir die Verlossing en Opbouing van die volk van God. Dit het hy gedoen deur die Heilige Skrif anders te interpreteer as sy wit eweknieë. Hy verwerp die opvatting dat die Evangelie van Christus die siel van die mens vrymaak ten koste van die lewe op aarde. Politieke verdrukking is nie `n saak van belang nie. Hierdie was een van die fundamentele verskille tussen die ander kerke en ons eie kerk.

Die wentelpunt waarop die Volkskerk van Afrika georganiseerd en gekonstruktueerd is, was die Woord van God. Die Gemeente besit die hoogste gesag en die Konferensie is die beleidmaker. Die leraars is dienaars van die onfeilbare Woord van God. Eerw. Forbes het gesê dat ons die Bybel goed moet bestudeer: “study the Bible well and you will find Christ your Saviour more precious. In these days of apartheid and discrimination hold on to the teachings of the Bible!”  (1950)

Ten slotte let ons daarop dat die Volkskerk van Afrika nie weggebreek het van ander Christenkerke se godsdiens nie, maar wel die interpretasie van hul godsdiens.  Ons het lede gebly van wat die verlossing van Christus vir `n verdere volk beteken. Op die gebied van politieke aspirasies was die Volkskerk van Afrika nou verbind met die werklikheid en die wat gebly het onder apartheid. Die onderliggende kwessies van maatskaplike ekonomiese aard was baie nou verbind met die van die politieke kwessies.

DIE UITDAGINGS VAN DIE LAASTE 20-JAAR

Die skerp verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap oor die politieke beleid van apartheid, was die grootste probleem vir die tydperk vanaf die jare sestig. En in die proses is die prediking en pastorale verantwoordelikheid van die Kerk beïnvloed.

Armoede, politieke frustrasies en onverskilligheid teenoor die land se beleid van apartheid is diep gewortel in die bestaan van diegene wat nie stemgeregtig was nie. Die oorspronklike beleid van apartheid word vervang met `n beleid van afsonderlike ontwikkeling. Hierdie nuwe benaming vir apartheid het meer verdeeldheid gebring. Mense se eiendom is afgevat, kerkgeboue moes sluit weens verskuiwings, en moes dan verkoop word teen veel laer pryse as wat dit werd was.

Die Wet op Groepsgebiede het ons mense hard geslaan. Ander Wette soos die Ontugwet en die Wet op Gemengde Huwelike is tot die uiterste gevoer om skeiding te bring tussen mense op grond van kleurverskille. `n Minderwaardige Onderwysstelsel wat openlik diskrimineer teenoor Swartes het ons `n groot agterstand gegee met betrekking tot die opvoeding van ons kinders. Hierdie apartheidswette is nog `n hoofstuk wat geskryf is in die lang geskiedenis van blanke oorheersing. Die politieke uitdagings was dus vir ons Kerk in die jare sestig nog steeds van groot belang.

Hierdie was die historiese agtergrond vir die prediking en bediening van die laaste             20 jaar. Om hierdie saak te vererger het ons as kerk gely onder `n ernstige tekort aan leraars. Vir `n groot deel van ons gemeentelede was hierdie omstandigehede en die implikasies wat dit vir hulle inhou, nog altyd iets onbelangriks.    Noudat ons objektief staan teenoor die geskiedenis is dit nodig om ook krities te wees.

Daar is `n bewondering vir en meelewing met ons kerk wat alles in die stryd gewerp het om relevant te bly. Tog voel ek dat daar `n duidelike wegbeweeg is van die benadering van die eerste 40-jaar. Die agendas van kerkkonferensie is oorheers deur sake van interne probleme soos kerkorganisasie en kerkorde. Nou en dan is besluite geneem met implikasies vir die breë gemeenskap. Ek wil waag om te sê dat die Volkskerk van Afrika sy ywer verloor het vir die verset teen die onbybelse ideologie van apartheid.

`n Verdere hartseer aspek van die kerk se ontwikkeling gedurende die tydperk onder bespreking is die afvalligheid van lidmate. Hier het ek spesifiek in gedagte diegene wat deur ons kerk aangemoedig was, ook vir hulle geleenthede geskep, om hulle so voor te berei vir die komplekse samelewing van Suid-Afrika, dat hulle soos manne die wêreld vierkantig in die oë kan kyk.

Hoekom het hierdie breinkrag verlore gegaan vir die kerk? Die professionele lidmaat het sy rug op die kerk gedraai. Ons kerkraadsbanke word gevul deur manne,te[M1] n spyte van skolastiese tekortkominge, met die oortuiging dat hulle tot diens van ons Skepper kan wees. Dink maar net aan die geweldige voordeel vir ons kerk as alle beskikbare breinkrag tot die diens van Christus ingespan kan word. Dit is ontstellend om te verneem dat die Volkskerk van Afrika irrelevant geword het vir hulle wat minderwaardigheid op grond van die Heilige Skrif beveg.

Ons kan aflei dat die laaste 20-jaar vir die kerk `n ander pastorale benadering gebring het. Dit is ook in die belang van ons kerk dat daar waardeing uitgespreek word teenoor alle pogings om die kerk as organisasie gesond te hou. Dit het die ideale klimaat vir die kerk geskep om met `n goed georganiseerde platform die uitdagings van die toekoms die hoof te bied.

DIE UITDAGINGS VAN DIE TOEKOMS

Die uitdagings van die jaar 1984 en dit wat voorlê is van kritieke belang vir die vooruit-gang van die Volkskerk van Afrika. Graag wens ek hierdie utdagings  onder drie hoofde te bespreek, naamlik Politieke, Maatskaplike en Ekonomiese uitdagings.

a) Politieke Utdagings

In die Regeringsmondstukke word beweer dat die regering `n nuwe Politieke weg ingeslaan het. Konfrontasiepolitiek is verruil vir Konsensuspolitiek.  Die hand van vriendskap word uitgesteek. Die sondige beleid van apartheid moet uit. Ons as kerk van hierdie nuwe beleid en nuwe weg van die regering verwerp met `n verklaring gedurende die sitting van 1983. So het byna alle gevestigde kerke  hierdie nuwe politieke bestel verwerp. Hierdie verwerping is gegrond op Bybelse oortuigings. Op die 22ste en 28ste Augustus het meer as 70%  van die kiesers weggebly van die stembusse.  Ons sien dat ons gemeenskap erg verdeeld is  oor die kwessie van deelname en verwerping.

Die leraars van ons kerk is gevra om nie in partypolitiek betrokke te raak nie. Hiermee is probeer om die eenheid  onder die gemeente en kerk te verseker, pastorale verwaarlosings te verhoed, die vervreemding van gemeentelede te keer en polarisasie tussen gemeentelede te verhoed. Ook is daar besluit om die konferensiële  verklaring van 1983 op die gemeentelede af te dwing. Ons beskou dit as `n gewete saak.

Waar staan ons nou ten opsigte van hierdie  sogenaamde politieke bedeling? Ongelukkig het ons kerk nie in die vroeë jare apartheid as kettery verklaar nie, nogtans is dit die onderliggende opvatting dat apartheid teen die Evangelie  van Christus is. Die stigting van die Volkskerk van Afrika is `n bewys hiervan. Apartheid is altyd as sonde deur ons verstaan. Ons kan ook nie summier  hierdie nuwe beleid verwerp nie.

Ek is daarvan oortuig  dat u sal saamstem dat `n mens jou eers afvra wie het hierdie nuwe beleid geformuleer? Op wie se vertroue word hier staatgemaak?  Die regering vra die vertroue van ons, en vra verder dat ons hulle moet vertrou.  Is dit vir ons as `n verdrukte volk met `n bittere ondervinding van die verlede moontlik om op eerlikheid van die regering te kan vertrou?  Dieselfde mense wat aan die buitewêreld  breed verkondig het dat apartheid dood en begrawe is, het nog meer apartheid herbevestig in `n Grondwet.  Ek wil u ernstig waarsku dat die politieke uitdagings vir ons kerk van groot belang is. Die jongmense wag met spanning om te kyk wat die kerk se reaksie gaan wees.

God het in Sy Almagtige Wysheid die mens as Rentmeester aangestel met `n opdrag om die wêreld onder beheer te kry en dit tot voordeel van Sy skepsels te ontwikkel. Met medeverantwoordelikheid is daar `n verbond tussen God en die mens om hierdie `n beter wêreld te maak. So het God deur middel van Sy Seun, Jesus Christus, die skeidsmure afgebreek om hierdie wêreld te kan bereik.  Ons kerk het hierdie plan van God aanvaar deur Jesus as die Hoof van hierdie kerk te bely. In ons besluite moet ons onthou dat Jesus aan Pilatus gesê het: “U sê dat Ek `n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom om vir die Waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na My stem ...”

Ons daaglikse ondervindinge wys vir ons dat daar niks noemenswaardig in die stelsel van apartheid verander het nie. Persone met strydige politieke opvattings as dié van die staat, word nog steeds aangehou. Die hartseer onluste in die swart woonbuurte en studente oproerigheid is tekens van hierdie verdeeldheid. Ten spyte van die feit dat gekleurdes deel vorm van die sentrale landsbestuur, is apartheid nog springlewendig. Die kleur van jou vel bly steeds `n belangrike faktor.

b) Maatskaplike Uitdagings

Op hierdie gebied wil ek net noem dat die sake vir die kerk van belang is. Die vreesaanjaende styging in buite-egtelike geboortes, onrusbarende styging in egskeidings en jeugmisdaad. Hierdie kwessies sentreer rondom die familielewe. As kerk het ons nog altyd `n hoë prioriteit geplaas op die handhawing van gesonde familiebetrekkings. Die verwaarlosing van die bejaardes, veral op die platteland, is ook `n saak van groot kommer.

c) Ekonomiese Utdagings

Die huidige streng maatreëls afgekondig deur die staat is `n duidelike teken van die moeilike ekonomiese omstandighede van ons tyd. Die hoë rentekoerse, prysverhogings en die werkloosheidsyfer wat net toeneem, wek kommer. Die kapitalistiese stelsel met die winsmotief  as die hoogste prioriteit, moet onder hierdie drukkende toestand bevraagteken word.

U weet, as die gewone man in die straat onder die druk van die ekonomie gebuk gaan, is dit noodwendig dat die man in die kerk onder dieselfde druk sal gaan. Finansies is `n belangrike deel van die kerk se bestaan. Hier wil ek veral die opleiding van leraars beklemtoon. Met dankbaarheid wil ons ASATI verseker van ons grootste waardering teenoor hulle bydra tot die onkoste verbonde aan die opleiding van ons studente, met ons eie nypende tekort om self in hierdie behoefte te voorsien.

En bogenoemde uitdagings is maar die spits van die ysberg waarmee die kerk te doen het. Daar is nie genoeg tyd om alles te analiseer nie tog wens ek die volgende aan-bevelings te maak vir die kerk om relevant te bly.

AANBEVELINGS

1)Met die oog op die probleem onder bespreking, naamlik die politieke uitdagings, wil ek op enkele aspekte van dié benadering wys waardeur dit vir ons moontlik mag wees om die probleem te oorkom. Dit is duidelik uit die geskiedenis van ons kerk dat daar sekerheid moet wees oor waar ons staan ten opsigte van die Woord van God. As ons egter daarop uit is om die Bybel te gebruik as ons enigste maatstaf, dan moet daar intensiewe Bybelstudie en navorsing gedoen word. Uit die praktyk van ons prediking blyk dat daar twee vername redes is waarom daar `n meer noukeurige gesindheid behoort te wees ten opsigte van die gebruik van die Bybel. Die eerste rede is die belangrikheid van die saak. Die tweede rede is dat daar gedurig deur die Bybel interpretasie behoort te wees ten opsigte van die veranderde omstandighede.

2)Die kerk behoort betrokke te raak by die opvoeding van die Familie. Die Lutherse filisoof Richard John Niehaus, het in sy boek, `The Naked Public Square’, geredeneer dat as godsdiens nie `n belangrike faktor in die formulering van openbare waardes speel nie, die vakuum gevul sal word deur die staat, wat dan die plek van die kerk inneem. Dit lei tot `n totalitêre staat.

So gou as godsdiens gereduseer word tot niks meer as `n private gewete nie, is daar net twee spelers in die openbare lewe, die staat en die individu. Dus moet die kerk leiding gee ten opsigte van die maatskaplike vraagstukke. Meer aandag sal gegee word aan voorhuwelikse voorligting, verhoudinge binne die huwelik en familie, handhawing van Christelike morele standaarde en die versorging van die bejaardes. Weereens sien ek ons kerk as instrument om hierdie sake te benader.

3)Op die gebied van ekonomiese uitdagings word daar baie van die kerk gevra. Ons moet tog nie die voorbeeld van die staat volg nie. Die staat doen `n ernstige beroep op die burgers om die utgawes te besnoei en nie bokant hul inkomste te leef nie. Die staat op sy beurt word beskuldig van oorspandering om die beleid van apartheid te onderhou.

Op sentrale vlak het ons dringend fondse nodig. Daar sal deeglike beplanning gedoen moet word. Die lidmaatskap aan die Albert Luthuli College moet met deeglike oorweging onderneem word aangaande die finansiële implikasies. Distrikfondse moet so aangewend word dat daar duidelike voordele vir die kerk moet wees. Die grootste versigtigheid sal deur die gemeentes self geopenbaar moet word. Met die steeds stygende pryse op alle gebiede sal die uitgawes goed beplan moet word.

Ek is daarvan oortuig dat die grooste gedeelte van ons lidmate nie kop bo water kan hou nie. Neem as voorbeeld die onderhouding van ons leraars. Is u in u eie hart oortuig dat die huidige finansiële vergoeding wat aan leraars betaal word genoegsaam is sodat `n gesonde  en gelukkige lewe verseker kan word? Gemeentes wat leraars onderhou sal die nodige aanpassing moet maak om te verseker dat hulle nie onbevoeg word nie.

In ons kerk is daar opgeleide persone wat die plaaslike gemeentes met gespesialiseerde raad en kennis kan bystaan ten opsigte van fondsinsameling, begrotings en ander sake aangaande finansies. Daar sal geleentheid geskep moet word vir hierdie breinkrag om tot diens van die Heer te wees. So kan families deur gemeentelike programme gehelp word om hulle eie sake te reël.

Ten slotte wil ek dan hiermee  my voorneme bekend maak om gedurende my ampstermyn, met die hulp van God, uitvoering te gee aan hierdie probleme en uitdagings. Met u hulp en ondersteuning vertrou ek, kan ons die Volkskerk van Afrika deel maak van die alledaagse lewe van sy lidmate.

God seën ons Kerk.

 
 

 [M1]