Geskiedenis Oudtshoorn

DIE VERVULLING VAN ONS EIE WENSE.

DIE STIGTING VAN ‘N EIE SELFSTANDIGE KERK TE OUDTSHOORN.

‘n Brandende verlange na selfstandigheid op kerklike gebied het hom mettertyd meester gemaak van ‘n groep susters en broers in Oudtshoorn. Hulle was eendragtig in hulle begeerte en dit was vroeg in 1927 dat bekwame manne en vroue – mense wat geglo het in en aanbidders was van die Drie Enige God – tot die daad oorgegaan het. Hulle opregte strewe was om ‘n geestelike tuiste te vind ten einde God in opregtheid te dien. Sonder ‘n kerk het omtrent          90 huisgesinne op verskeie plekke vergader.

 

Op 14 Desember 1927 is besluit om die Moederkerk van die Volkskerk van Afrika te Kaapstad te kontak. Op ‘n versoek is die Grondwet van die kerk aan die broers en susters gestuur. Groot was die vreugde toe ‘n groep van 200 lede van verskillende kerke op 6 Januarie 1928 besluit het om die Grondwet te aanvaar. Eerwaarde J.J.H. Forbes is na Oudtshoorn gestuur om die saak verder te ondersoek. Hy is deur br J.J. Rensburg vanaf Mosselbaai vergesel.

Gedurende die week van 6 Januarie 1928 het Oudtshoorn antwoord vanaf Kaapstad ontvang dat hul aansoek om by die Volkskerk van Afrika aan te sluit, suksesvol was. Op Sondag                12 Januarie 1928 het eerwaarde J.J.H. Forbes sy boodskap op roerende wyse aan die lede bedien, oorgebring uit Nehemia 4:6, want die volk was met hul hart aan die werk. Lawend en besielend was die woorde wat op dorstige harte geval het en toe die waarheid uit Nehemia 4:3 direk tot hulle spreek, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte met vuur verbrand het, het hulle besef daardie mure moet weer opgebou word.

Op Sondag 11 Maart 1928 is die Oudtshoorn gemeente uiteindelik gestig. God het hulle gebede verhoor. Eerwaarde J.J.H. Forbes het die boodskap gebring na aanleiding van 2 Konings 10:15. “So ja, as jou hart veg soos my hart veg; gee my jou hand en klim op die wa.” Die byeenkoms was op dieselfde perseel waar ‘n kerkgebou bekom was. Dit was ‘n stoor wat aan ‘n sekere mnr Lazarus behoort het en wat br J.J. Rensburg vir ‘n bedrag van £750 gekoop en later aan die gemeente verkoop het. Nadat dit verander was as ‘n kerkgebou, is dit deur eerwaarde Forbes, wat as konsulent leraar die gemeente bedien het, op 15 Maart 1931 ingewy. Die gemeente het met rasse skrede gegroei en by daardie geleentheid het die ledetal op 600 gestaan.

Baie seëninge het die gemeente te beurt geval. Die dagskool is geopen op 29 Januarie 1934 met mnr J.W. Fransman as hoof. Deur sy ywer moes twee klaskamers aangebou word want die getal het aangegroei tot 130 kinders en vier leerkragte.

In Julie 1931 is eerwaarde D. Janari, wat op Stellenbosch werksaam was, na Oudtshoorn beroep. Sy intreediens is op Sondag 1 November 1931 gehou. Hy en sy vrou het reusewerk in die gemeente gedoen. In die distrik is later 10 buitestasies gestig. Willowmore, Uniondale en Knysna is op 5 Augustus 1952 selfstandig verklaar.

‘n Dagskool is ook te Bloupunt in 1950 geopen waar sewe klaskamers skuldvry gebou is. Onder die bekwame leiding van mnr W. Janari het die skool met 40 leerlinge begin en spoedig tot 200 gegroei. Na 17 jaar van harde arbeid het mnr Janari na die stad vertrek en is opgevolg deur mnr J. Du Plessis.

Uitreksels uit die toespraak van wyle ds JJH Forbes gelewer op 14 Mei 1922 te Kaapstad

Op 14 Mei 1922 het eerwaarde J.J.H. Forbes sy toespraak in Kaapstad gehou en is die fondament waarop die kerkgenootskap, die Volkskerk van Afrika, voortaan sou bou, stewig gelê. Die volgende aanhalings uit sy rede bly steeds van toepassing in ‘n snelveranderende wêreld.

Hy sê: “various sections of the Christian community came together to form themselves into a church, controlled by themselves, for themselves to serve God with a free conscience, with liberty of spirit and in their own way.”

Verder maak hy ook melding van die euwels wat ons gemeenskappe tot vandag toe nog teister. Hy sê: “gambling, abuse of alcohol, smoking of dagga are evils which are taking a firm hold on our youth.” Hy spreek ook die hoop uit dat die genootskap ook ekumenies met ander kerkgenootskappe sal saamwerk. “We wish to work side by side with older and more established institusions for the betterment of our motherland.” Hy het die nuutgestigte genootskap daarop attent gemaak dat hulle van nou af volle verantwoordelikheid vir hulle eie lewens moet neem. Hy verklaar hieroor as volg: “we claim a religious and a moral right to work out our own salvation.”  Vandag, bykans honderd jaar na die profetiese woorde, word gemeenskappe regoor die land steeds deur dieselfde euwels geteister.

Met die stigting van die Oudtshoorn gemeente in 1928, en na die beëindiging van eerwaarde Forbes se konsulent bediening, verwelkom die gemeente eerwaarde Daniel Janari in November 1931. Wyle Jurie Wilhelm Fransman was die eerste prinsipaal van die Hoogstraat (Volks) primêre skool. In 1934 was daar 130 kinders op die skool se rol. Onder die rustige leierskap van eerwaarde Janari is talle buiteposte asook ‘n landelike skool te Bloupunt, gestig. In die jaarverslag van 1938 word dit gemeld dat die skool op Bloupunt 70 leerlinge het met mnr W.C. Janari as prinsipaal. Na ‘n bloeitydperk van groei en ontwikkeling in die gemeente, het            juff Janari ons in Maart 1955 en eerwaarde Janari ons in September 1959 ontval. Eerwaarde en juf L.T. Rousseau het die Janari’s in 1959 opgevolg. S telselmatig het die apartheidspolitiek ‘n greep op die totale gemeenskap begin kry. Alles wat die gemeente met moeite tot stand gebring het, is deur die apartheidsregering vernietig. Eers het hulle die kerkskole met staatskole vervang en apartheidsonderwys het sy beslag gekry. Die bestuurderskap van predikante by kerkskole is hulle ontneem en skoolkomitees is in hulle plekke aangestel.

Die kohesie wat daar tussen kerk en skool bestaan het, is plotseling vernietig. Die pastorale en administratiewe beheer wat daar tussen kerk en skool bestaan het, is permanent verbreek. Die oorneem van die kerkskole deur die staat, het ‘n leemte in die gemeentelike omgewings gelaat wat nooit weer gevul kon word nie.

Die trauma wat die groepsgebiedewet veroorsaak het

Die groepsgebiedewet was ‘n onteieningswet. Dit het mense of groepe van mense van hulle eiendomsreg vervreem sonder dat hulle daarin geken is. Indien enigiemand hulle daarteen sou verset het, sou die aksie op ‘n misdryf neerkom en so ‘n persoon of persone kon wetlik vervolg word. Die reg om in ‘n vryemarkstelsel jou eiendom teen markverwante prys te verkoop, was dié en ander gemeentes nie beskore nie. Die gemeente was ‘n belaglike prys van R18 000 vir hul eiendom aangebied. ‘n Eiendom waarop ‘n skoolgebou, ‘n kerk en ‘n pastorie gebou was. Die Oudtshoorn gemeente was verplig om hulle deure te sluit en onder dwang na die township Bridgton, te verhuis. Finansieel het die gemeente erg gely, want hulle moes nou ‘n nuwe kerkgebou onder duurder omstandighede bou. Die gemeente het toe eers die Daniel Janari Gedenksaal gebou wat as tussentydse aanbiddingsplek gedien het. Teen 1969 is alle kerkdienste, behalwe nagmaaldienste, na die Daniel Janari Gedenksaal verskuif en in 1971 is alle dienste daar gehou. Die impak wat die groepsgebiedewet op generies swartmense gehad het, was finansieel, moreel en emosioneel vernietigend.

Die ds PJ Pietersen onderhoud

Hierdie onderhoud wat in die genootskap se lyfblad, Ons Bron, in 1994 verskyn het, vat die tragiese gebeure diep emosioneel saam. Die volgende is ‘n aanhaling uit die onderhoud:

“die ontsettende terugslag in my bediening was toe die gemeente van die Volkskerk van Afrika, Oudtshoorn, onder dwang vanaf Noord-einde na Bridgton moes verhuis, waar ons groot uitgawes moes aangaan om weer ‘n huis van die Here daar te stel. Ons was wederregtelik onteien en daar was niks wat ons daaraan kon doen nie. Ek sien nog die trane en die hartseer toe ek die afskeidsboodskap aan hulle gelewer het. Gebroke, maar dapper, moes ons as die leiers van die kerk die gemeente bemoedig en daarna onder moeilike omstandighede, weer van oor af begin. Ons het verder voort in die geloof gestap, verslae en mismoedig by tye, maar soms tog met ‘n lied in ons hart.”

Blankes het ons eiendomme vir ‘n appel en ‘n ei bekom. Vandag word daar op die gemeente se eiendom ‘n kwekery bedryf. Die gemeente moes magteloos en ontroerd toekyk hoe die stootskrapers in die teenwoordigheid van die polisie, hulle eertydse eiendom platstoot.

Die periode van heling en herstel

Soos die jare aangestap het, het die gemeente hulle omstandighede aanvaar. Die woede en die hartseer het bedaar. Die nuwe huis van die Here is met vasberadenheid aangepak en met trots voltooi. Vandag staan ons kerk in die township as ‘n teken en simbool van die gemeente se vaste voorneme om nie te sneuwel in die aangesig van verdrukking en uitbuiting nie, maar deur steeds ‘n lewende getuienis te wees van wat Paulus sê, “ons is tot alles in staat deur Jesus Christus wat ons die krag gee.”

Die ekumeniese beweging

Die apartheidsregering het nou hulle missie voltooi deur al die generiese swartmense uit die verklaarde wit gebiede in Oudtshoorn te verdryf. Hierdie verwerping en verwydering het ook sy voordeel gehad. Die verwerptes was nou eendragtiglik bymekaar en kon hulle gesamentlik bepeins oor hulle gemeenskaplike verdrukking. Met verloop van tyd, deur onderlinge samewerking en gesprek, het daar ‘n ekumeniese gemeenskap tot stand gekom. Die woordverkondiging deur die geestelike leiers het ‘n nuwe dimensie bereik. Apartheid is skriftuurlik as onchristelik bewys. Die ekumeniese beweging het nuwe hoop vir die verslane gemeentes wat deur apartheid ontmoedig is, gebring. Versoening, eensgesindheid, en vergifnis in Christus was die uitdagings wat aan die onderskeie gemeentes en die totale gemeenskap gestel is. Van die gemeenskaplike riglyne wat op ‘n pamflet gedurende dié tyd verskyn het, het die volgende verklaar:

  • Die kerk van Christus moet mense van verskillende agtergronde help om met mekaar in vrede en liefde te leef.
  • Die kerk van Christus moet help om mekaar as mede-Christene te aanvaar en om menswaardigheid na te strewe.
  • Die kerk van Christus moet help met die skep van rolmodelle vir die verbetering van menslike verhoudings.
  • Die kerk van Christus moet die blanke heersers help om te verstaan dat hulle nie as ‘n meerderheid kan voortgaan om die meerderheid te onderdruk nie.

Met hierdie onaangename en traumatiese ervaring van ons land se geskiedenis, het daar tog iets goed gekom. Suid-Afrika was uiteindelik polities vry. Ons het in ‘n sekere sin geleer om te vergewe, maar ook in ‘n sekere sin om te onthou.

Oudtshoorn gemeente vandag

Oudtshoorn Google Kaart / Map

PHYSICAL ADDRESS / FISIESE ADRES

ZEBRA ROAD, BRIDGTON, OUDTSHOORN